AIM - Web Analytics Tool

News & Events

News Updates

The NAPHA keeps you informed about hunting related news in Namibia...
28.02.2014 10:57 Age: 215 days
By: Francois Steynberg - Republikein

Leeubewaarders se program 'n reusesukses

Mens-dier-konflik in die Purros-bewaringsgebied het drasties verminder ná die leeubewaarder-program ingestel is.



Net een koei het haar lewe weens ’n leeu-aanval ver­lede jaar in die Purros-bewaringsgebied verloor.

Dit is danksy die leeubewaarder-program van onder meer die Toeris­me Ondersteun Bewaringsorganisasie (Tosco) waarmee aan die einde van 2012 begin is.

Die drie leeubewaarders, Bertus Tjipombo, Colin Kasupi en Kooti Karutjaiva, monitor die bewegings van die leeus met hul selfone en waarsku die gemeenskap om die nodige voorsorgmaatreëls te tref indien leeus naby hulle voorkom. Hulle werk ook nóú saam met die Rhino Knights van die Red die Renosterfonds en ander bewaarders om wildstropery te voorkom. Die leeubewaarders het nie ’n voertuig nie en doen hul werk te voet of gebruik donkies.

In Afrika word leeus doodgemaak deur mense wie se lewensbestaan deur die roofdiere bedreig word. Mense wat tussen wilde diere lewe, staar elke dag mens-dier-konflik in die gesig met leeus wat hul vee vang of olifante wat hul gewasse vernietig. ’n Groeiende bevolking dra nog verder tot die probleem by. Soos die getalle van wilde diere asook mense vermeerder, so verhoog konflik egter. Wildgetalle het ook intussen vermeerder nadat dit in die tagtigerjare drasties afgeneem het.

Namibië se woestynleeus in die Kunenestreek is die enigste vrylopende leeubevolking buite nasionale parke in die wêreld waarvan die troppe steeds vermeerder. Weten­skaplikes vrees egter dat die wilde leeus in 15 tot 20 jaar uitgesterf kan wees.

Die wêreldbekende woestynleeunavorser, dr. Flip Stander van die Woestynleeu Bewaringsprojek, het egter baie met sy internasionaal-bekende bewaringsprogram bereik. Die doel van die leeubeampte-program is om konflik tussen leeus en mense te vermy. Tosco probeer ook om werk te skep en dus, in plaas van trofeejag of die skiet van probleemleeus, volhoubare waarde aan lewende leeus toe te voeg. Jong mense soos Bertus wie se pa vroeër leeus gejag het om hul vee te beskerm, wil nie meer leeus doodmaak nie. Die hoofrede hiervoor is die inkomste wat uit toerisme vloei. Voorts voel die mense wat naby die leeus lewe dus nou veiliger wanneer die leeubewaarders die bewegings van die leeus dophou. Sodoende word die risiko verminder dat die leeus gedood word. Die leeubewaarder-program is in die Purros- en Torra-bewaringsgebied sedert die einde van 2012 in samewerking met die Geïntegreerde Landelike Ontwikkeling en Natuurbewaringsorganisasie (IRDNC) getoets.

Die drie leeubewaarders se salarisse word deur Tosco, Kunene Conservancy Safaris en Schoeman Fly-in Safaris betaal. Tosco het ook die nekband van die Okongwe-leeuwyfie (Xpl-70) en vanjaar nog twee woestynleeus s’n ter waarde van N$60 000 geborg. Die nekbande van die leeus is ’n belangrike deel van die leeubewaarder-program, deurdat die leeus se bewegings voortdurend deur die leeubewaarders gemonitor word.

“Met net een koei wat verlede jaar in die Purrosgebied deur ’n leeu gevang is, was die toets ’n sukses,” sê Tosco op sy webtuiste.

Tosco sal dus voortgaan om die salarisse van leeubewaarders te betaal en help om hulle beter toe te rus met onder meer beddegoed sodat hulle snags buite kan slaap, ’n GPS sodat hulle die leeus beter kan volg, water­bottels, uniforms, warm klere en verkykers. In samewerking met die IRDNC en die Woestyn­leeu Bewaringsprojek wil Tosco die program in die toekoms ook na ander bewaringsgebiede uitbrei. Om by Tosco aan te sluit om die oorlewing van Afrika se laaste wilde leeus te ondersteun, stuur ’n e-pos na info@tosco.org of besoek die webtuiste by tosco.org/support/.